Hierdie storie gaan lank terug en het sy ontstaan uit Brits gekry. Die agtergrond is dat hierdie boer vir sy werkers gewag het en hulle was laat. Hy het al hoe warmer onder die kraag geword en sy gedagtes het op loop gegaan. Toe hy hulle op ‘n afstand sien waar hulle aangedrentel kom, wens hy eensklaps dat ‘n leeu uit ‘n bos uit moet vlieg om die nodige haas by hulle te laat ontstaan. So het die storie sy oorsprong gekry…………
Die nuutste manier is mos motorkar koop
maar daarvan het ons boere op plase geen hoop
‘n Vriend van my het hom slim gehou
en het vir homself ‘n motor gebou
Die meeste dele was van hout en sink
dit het my aan die eerste ou Fordtjies laat dink
Dit kos hom sy vinger en heelwat pyn
maar eindelik het die rytuig op die pad verskyn
Ek was besig om saai toe hoor ek ‘n gesuis
ek dag dis swaarweer en ek nael vir die huis
Toe ek duskant die huis op ‘n galop aankom
sien ek my beeste staan almal verstom
Onder in die pad kom die duiwel self aan
en maak ‘n lawaai asof die wêreld vergaan
Gelukkig was die melkkoeie weg van die baan
anders was my melkopbrengs skoon na die maan.
Hy ry toe die hek in, die hekpaal net mis
Toe sal ek sien dat dit die ou vriend van my is
Hy stop en sê: “Dag Hans,
sien jy vir ‘n lekker ry kans?”
Ek sê: “Jy kan my seker oplaai,
gee my eers kans om die hawer te saai.”
Die hawer is gesaai en hy sê vir my: “Kyk maat, jy moet hou of jy’s dood.”
Mense, toe raak ek in die nood
Hy trek toe ‘n lever en dit brul en raas en skree
Van daardie lawaai het jul geen idee
Ons trek oor die vlaktes dat die graspolle waai
en ek voel later dat my maag begin draai
Ek beduie vir hom dat hy moet stop
want ek kry ‘n snaakse gevoel in my kop
Hy druk toe die lever om die ding te laat bedaar
en ek word toe bewus van die allergrootste gevaar
Voor jy kon sê ‘mes’ staan ek op die grond
my hart in my keel en my maag in my mond
Hy lig toe ‘n paar sinke om my die enjin te wys
toe ek dit sien word ek amper grys
Jy sou nooit kon dink van so ‘n verstandige man
hy’t mooi ‘n leeu en ‘n donkie agtermekaar ingespan!
‘n Sinkplaat hou die twee van mekaar
en as die lever die sink oplig sien die donkie gevaar
Hy loop dat hy bars om die dood te ontvlug
en die leeu die mik vir ‘n sprong op sy rug.
So word die rytuig oor die pad vervoer
teen ‘n vreeslike spoed en helse rumoer.
Die twee trek goed, hul sout sal hul verdien
maar as die leeu daar loskom gaan jy ‘n neukery sien!