Moord van honderde boere pla
Slagoffers van plaasaanvalle maak hul stemme dik
Klem is die maand deur verskeie aksies deur AfriForum op die moord van honderde boere gelê.
Die organisasie het die maand gekies om hulle daarop toe te spits om internasionale druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om plaasmoorde te prioritiseer.
Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het verduidelik dat dit op 1 Desember 2015 presies vyf jaar sal wees sedert die Potgietergesin wreedaardig op hul plaas naby Lindley in die Vrystaat vermoor is. Attie Potgieter (40) is 151 keer met tuinvurke, kapmesse en ander gereedskap gesteek, terwyl sy vrou, Wilna (36), en hul dogtertjie, Willemien (2), moes toekyk. Daarna is Willemien met ’n skerp voorwerp oor die kop gekap, in die kop geskiet en in die buitekamer in ’n boks gegooi. Nadat Wilna die moorde op haar man en dogter moes aanskou, is sy na die plaashuis geneem, waar sy ook verskeie kere oor die kop gekap en toe in die nek geskiet is.
“Hoewel die regering die moorde op die Potgieters in die media betreur het, is dit egter duidelik dat plaasmoorde geensins ’n prioriteit vir die polisie is nie,” het Roets gesê. “Sedertdien is honderde boere op hul plase vermoor; sommiges op die mees gewelddadige wyse denkbaar. As die regering en die departement van polisie die probleem aflag, sal ons seker maak dat hulle in die internasionale arena hiervoor in die verleentheid gestel word.”
Van die aksies wat die organisasie aangepak het, is;
Om die hooggeregshof te nader vir ’n bevel om die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te dwing om hul statistiek oor plaasmoorde te publiseer en die metodologie bekend te maak wat gebruik word om dié statistiek in te samel. Dít volg nadat die voormalige nasionale polisiekommissaris in die afgelope jaar by twee geleenthede na plaasmoorde verwys het, maar teenstrydige syfers gegee het.
Voorts het AfriForum reeds geregistreer om die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in die laaste week van November oor plaasmoorde toe te spreek. ’n Verslag, wat spesifiek fokus op die wyse waarop daar in die strafregstelsel teen plaasaanvalslagoffers gediskrimineer word, sal ook by die VN ingedien word.
Hierdie verslag sal ook aan meer as 300 internasionale en buitelandse mediakorrespondente in Suid-Afrika versprei word. Op die dag waarop die voorlegging aan die VN gemaak word, sal die verslag aan meer as 5 000 buitelandse media-instellings uitgereik word.
Die maand se projekte sluit op 1Desember 2015 af wanneer AfriForum saam met slagoffers van plaasaanvalle ’n mosie van wantroue in die regering se vermoë om plaasaanvalle te beveg by die president se kantoor sal indien.
AfriForum het ’n beroep op die publiek gedoen om hul name by AfriForum se protesbrief te voeg.
“Hoe meer mense hul name by die veldtog voeg, hoe sterker sal ons stem wees en hoe groter ons kans op sukses,” het Roets verduidelik.
Die organisasie het minstens 100 000 name van die publiek wat die saak steun nodig. Besoek die webwerf www.stopdiemoorde.co.za of SMS jou naam na 32534 teen R1.
AfriForum beoog ook om binnekort ʼn eenheid op die been bring wat op die slagoffers van plaasaanvalle en –moorde sal fokus.