Die Redakteur skryf,
Die droogte wat ons nou ervaar is uitmergelend. Die weerprofete skets nog ‘n somberer prentjie. Sterkte aan ons boere – ons hoop verligting kom gou.
So met die droogte, ongekende hitte en swak ekonomie moet ons maar waak om nie in ‘n toestand van pessimisme te verval nie. Die eerste werklike donderstorms het toe middel-November gekom, maar ongelukkig met hael gepaard wat groot skade aangerig het tussen ons boere. Die wêreld is werklik deurmekaar. Ons probeer, in hierdie tydskrif, om ‘n goeie balans te handhaaf tussen positiwiteit en negatiwiteit. Wanneer ons negatief raak gaan dit hoofsaaklik oor swak dienslewering – nie net teenoor ons boere nie, maar ook teenoor al ons inwoners. Met die droogte en behoefte aan water is dit maar net verstommend oor die onvermoë van ons plaaslike munisipaliteit om te lewer. Skokkende verhale ontvou en hulle stoom maar net onverpoos voort. Dit stem mens mismoedig.
Die koring is omtrent nou af en ons hoor dit het goed gegaan. Ons hoor geluide van ‘n gemiddeld van vyf tot ses ton per hektaar. Saam ons boere is ons ook trots.
In hierdie uitgawe kyk ons ook ‘n slag na oesversekering. Interessante dinge kom daar na vore. Vanaf Desember begin alle aktiwiteite dramaties afskaal en die Feestyd lê op hande. Ons wens al ons lesers, adverteerders en vriende ‘n aangename en voorspoedige Kers- en Nuwejaarstyd toe. Mag almal die blymoedigheid, vreugde en vrede van die Christusgeboorte ervaar.
Die nuwejaar sal ons weer aanpak met hernieude ywer en positiwiteit. Ons ken positiwiteit – ons het dit by ons boere geleer.