Quantcast
Channel: Blink Boer
Viewing all articles
Browse latest Browse all 117

Vanaf ‘n PAC militant tot ‘n Boereliefhebber

$
0
0

Vanaf ‘n PAC militant tot ‘n Boereliefhebber

Deur Johnny Masilela

Lucas “Codesa” Mosane was ‘n ontplooide militant van die Pan Africanist Congress (PAC). Hy was ‘n fakkeldraer van daardie organisasie en bly nou in die dorpie Makgabetlwane aan die noorde van Brits.

Mosane se bure glimlag oor hierdie jong man – wat hulle as “Codesa” aanspreek. Binne drie weke het daar ‘n totale omwenteling in sy denke plaasgevind oor sy opinie oor Afrikaners. “Ernstig, ek het die Afrikaner mense – spesifiek die wit boere – net binne drie weke lief gekry,” sê Mosane gedurende ‘n onlangs gesprek met Blink Boer.

Mosane erken ruiterlik dat hy die Afrikaners, of boere, aanvanklik gehaat het, want hy het die opinie gehad dat die boere net swart mense wil ondermyn. Verder het hy gedink dat elke Afrikaner ‘n rassis was wat swart mense haat.

Sy keerpunt? “Ernstig, dit het my net drie weke gevat om ‘n beter kennis van die Afrikaner te kry,” sê Mosane met groot erns. En die bynaam ‘Codesa?’

Dis maar spottend, want ek was persoonlik teen (Nelson) Mandela en (F W) De Klerk se sogenaamde onderhandelings. Onthou dat ons by die PAC nie in die onderhandelngs betrokke was nie,” sê hy.

Nou wat het so skielik verander? “Ek is persoonlik baie dankbaar teenoor ‘n paar Afrikaner boere – soos byvoorbeeld ‘n intellektueel van Brits soos Frans Swanepoel. Ou Frans is ‘n akademikus van die Universiteit van Pretoria se Veeartsfakulteit en het my perspektief vir ewig verander,” sê Mosane. “Ekself en ‘n paar ander swart boere loop nou kursusse in diereboerdery by die Universiteit van Pretoria. Meneer Swanepoel se plaas naby Brits is ook die fokus vir die teel van ‘n Mosambiekse varswatervis, die Tilapia, waarin ons geweldig belangstel.”

Die oorlogskreet van die PAC, “one settler, one bullet” is nou ‘n vae herrinnering vir Mosane, wat vandag aktief is met sy Makgabetlwane Gemeenskapsontwikkeling.

Mosane sê na sy paar vergaderings met meneer Swanepoel and ander boere, het hy vinnig geleer dat die Afrikaner, net soos swart mense, lief is vir Suid Afrika en wil help om die moederland te bou. Hy sê in ‘n vergadering is ‘n Afrikaner eerstens ‘n boer en daarna ‘n professor of ‘n predikant. In ‘n vergadering is hulle een of soortgelyk. Dis sy ervaring.

Mosane is die sekretaris van die Bakwena ba Mogopa Tradissionele Raad asook die opsigter van die Mosane Bokprojek in sy tuisdorpie van Makgabetlwane. Die Tradisionele Raad bestuur die stamsake van Hebron, Kgabalatsane, Bethanie, Paachsdraai, Jericho, Makgabetlwane, Bartseba en Modikwe.

“Met die ondersteuning van meneer Swanepoel en my raadgewers by die Universiteit van Pretoria, beplan ek om ‘n gemeenskapsprojek te begin waar ons ‘n klein fabriek oopmaak waar ons gordels, sandale en ander produkte uit bokvel maak,” sê Mosane met sterre in sy oë. Sy bokprojek word befonds deur die Department van Landbou en die nodig krale en voertroë sal binnekort gebou word. Sy doelwit is om ander bokboere van Makgabetlwane betrokke te kry om van die projek ‘n groot sukses te maak.

En die politiek? “Ek stel nie meer daarin belang nie want bokvleis kan mens eet en nie politiek nie,” sê hierdie eens sogenaamde terroris wat vir die Afrikaner liefgeword het.

– Johnny Masilela is ‘n vryskutjoernalis wat artikels vir verskeie koerante lewer. As jong kind is hy in Brits getoë en was ‘n radikalis. Ons gaan meer van hom gebruik maak om swart perspektiewe vir ons te verduidelik (Red)

.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 117