Landbou – werkskepper van formaat
“Landbou is die sektor in die ekonomie wat die meeste werksgeleenthede skep met die minste belegging. Dit is die sektor wat die meeste waarde in die ekonomie vir elke rand belê asook die meeste uitvoere vir elke rand belê. Landbou genereer die hoogste opbrengs vir die staat vir elke rand belê,” het Gerrit van Rensburg, Wes-Kaapse Departement Landbou en Landbou Ontwikkeling gesê.
Hy het bevestig dat die toekomsvooruitsigte van Suid-Afrika op die verhouding tussen werkskepping en werkloosheid berus. “Sonder meer werksgeleenthede maak niks anders in ons ekonomie eintlik werklik saak nie. Demokrasie, ons grondwet en al die waardes wat dit beskerm, kan nie oorleef in ‘n see vol werkloosheid en armoede nie. Ek deel graag die enorme potensiaal wat landbou as ‘n sektor wat werk kan skep en kan help om ‘n beter toekoms vir ons land skep.” Dit is wyse woorde en ons kyk graag ‘n bietjie dieper na die werklike verhouding tussen landbou en werkskepping.
Onlangse navorsing deur Pan-African Research en beleggingsdienste het gekyk na die invloed van die vermenigvuldigingseffek op sleutel sektore binne die ekonomie, wat Landbou insluit:
-
Vir elke rand belê in landbou, is daar ‘n waarde uitset van R1.79. Hierdie is die grootste tussen al die sektore. Vervaardiging is tweede met R1.13
-
Elke R1 miljoen rand belê in die Landbou skep werk vir 11 mense. Kleinhandel en groothandel kom tweede met 3 werke per R1 miljoen belê.
-
Elke Rand wat belê is in landbou uitvoerbedrywighede laat uitvoer verhoog met R0.22. Die tweede beste sektore , is Vervoer en Kommunikasie wat uitvoere verhoog na R0.15 vir elke rand belê.
-
Elke rand wat belê is in landbou sal die staatsinkomste met R0.54 verhoog. Vervaardiging kom tweede met R0.35 genereer vir die staat met elke Rand belê.
Hierdie is feite, maar die vraag is wat is die realiteite. Die regering predik en smeek alle sektore om betrokke te wees by werkskepping. Soos ons pas gesien het, is landbou die grootste werksverkaffer in die land. Ervaar ons dat die regering sy blydskap uitspreek en die landbou bedank vir sy leidende rol?
Ongelukkig is die teendeel waar. Ons is gereeld tussen ons boere en ons hoor wanneer hulle praat. In kort ervaar hulle dat hulle nie die regering as hul vriend sien nie. Hulle moet gedurig oor hulle skouer loer. Van regeringskant af kom daar gereeld wilde uitsprake wat die boere tot groot onrus stem.
Boere het baie arbeiders in diens – derduisende. Daardie mense doen hulle werk en daarvoor word hulle betaal. Die minimum loon is op die boere afgeforseer en hulle het dit maar gelate aanvaar. Daardie werkers is ekonomies aktief en is nie ‘n las op die staat nie. Die regering het die grense oopgemaak vir immigrante wat vanaf ons buurlande instroom. Vir hulle om werkpermitte te kry, lyk op die oog af geen probleem te wees nie. Ons boere neem hulle in diens. Toegegee, volgens baie boere lewer daardie mense ‘n diens van ‘n hoë standaard. Hulle wil werk want hulle het in hulle eie lande gesien hoe ‘n ineenstorting lyk. Dit net kommerwekkend oor hoe die regering oënskynlik nie vir ons boere erkenning of krediet wil gee wanneer hulle saamwerk in belang van ons landbou nie.