Hier in ons omgewing praat almal nou oor die weer. Ons ervaar erge hitte en dit lyk asof ‘n droë seisoen ons in die gesig staar. Mense raak mismoedig en enigeen weet dat wanneer ons goeie reën kry dit sommer die ingesteldheid van mense positief beinvloed. Dit word vir ons gesê dat die oorsaak van hierdie wanbalans in ons somerweer veroorsaak word deur El Niño.
Ons kyk ‘n bietjie meer intens hierna want ons wil ook graag weet hoe ons waterbeskikbaarheid in die nabye toekoms gaan lyk. “Dit is besonder sterk vir dié tyd van die jaar, veral aangesien ’n El Niño gewoonlik sy hoogtepunt in Oktober en November bereik,” het prof. Francois Engelbrecht, ’n senior navorser in klimaatstudies van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), gesê. “Hoewel dit nie noodwendig met droogte gepaard gaan nie, bestaan ’n goeie kans dat dit in Suid-Afrika wel droër en warmer sal wees en daarom moet veral boere verantwoordelik wees en hulle op ‘n droogte voorberei.”
Volgens prof. Engelbrecht is die sentrale gedeelte van die tropiese Stille Oseaan, waar die sterkte van ’n El Niño gemeet word, nou meer as 1°C warmer as gewoonlik. “Om dit in perspektief te plaas kyk ons na die berugte super-El Niño van 1997 en 1998, toe die oseaantemperatuur daar tot 2,3°C hoër was,” het hy verduidelik. “In die maand Augustus was die twee egter min of meer ewe sterk.”
Vanjaar sal volgens alle aanduidings die warmste jaar nóg wees, met die Amerikaanse Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie wat vroeër gesê het die gemiddelde globale temperatuur vir Januarie tot Julie volgende jaar is 0,85°C hoër as die gemiddelde temperatuur van die 20ste eeu. David Carlson, direkteur van die Wêreld-klimaatnavorsingsprogramverbonde aan die WMO, het gesê vanjaar se El Niño is die eerste verskyning sedert klimaatsverandering wat veroorsaak het dat groot gedeeltes ys en sneeu in die Arktiese gebied gesmelt het. Dit is dus die eerste keer dat ’n El Niño en die impak van klimaatsverandering werklik saam gevoel word. “Dit is ’n nuwe planeet,” het hy gesê.
Gaan dié twee verskynsels mekaar aanvul of uitskakel? “Ons het massiewe gedeeltes sneeubedekking in die Noordelike Halfrond verloor; waarskynlik meer as 1 miljoen vierkante kilometer in die afgelope 15 jaar,” volgens Carlson. Die vraag ontstaan nou natuurlik hoe lyk die nabye toekoms vir ons hier in en om Brits. Is daar genoeg water? Gaan ons waterbronne hou?
Ons het toe weer by Nick Fourie van die Hartbeespoort Besproeiingsraad kan kers opsteek en sommer ‘n spul vrae gehad. “Die Hartbeespoortdam is meer as 90 persent,” stel Nick ons gerus, “die waterjaar in ons geval strek vanaf 1 Oktober tot 30 September en ons het so pas die volle kwota vir ons gebruikers goedgekeur.”
Die Hartbeespoortdam het ‘n invloei. Ons weet die kwaliteit is swak, maar minstens is dit water. Nick bevestig dat water vir huishoudelike gebruik die eerste prioriteit is. Hy voorsien nie probleme met watervoorsiening vir die nabye toekoms nie. Op ons vraag bevestig hy dat die Vaalkopdam aansoek gedoen het vir ‘n verdubbeling van hulle kwota van 40 miljoen kubieke meter na 80 miljoen kubieke meter. Sodra die Departement dit goedkeur tree dit onmiddellik in werking. Hy bevestig ook dat Medupi by Ellisras 75 miljoen kubieke meter gaan benodig, maar dit is darem ‘n paar jaar vorentoe – 2020 se omgewing. Dit gaan baie druk op die Hartbeespoortdam plaas om water te lewer. Hy reken dat die behoefte haalbaar kan wees en ons besef dat behoorlike beplanning en bestuur baie noodsaaklik gaan wees.
Afgesien van Brits en sy omgewing is die Hartebeespoortdam ook die lewensaar vir gebruikers stroomaf. Soos ons vantevore berig het is die Vaalkopdam in droë tye totaal van die Hartbeespoortdam afhanklik vir sy water. Ellisras – of Madupi – gaan dit ook wees. Dit gaan fyn beplanning verg om die gesonde balans tussen verbruik, genoeg water vir die riviere se eko-sisteme en die minimum uitvloei na die see te bewerkstellig. Kom ons hoop maar dat die mense wat dit moet doen, dit gaan regkry.
El Niño Wat is dit?
’n El Niño-verskynsel kom voor wanneer die water rondom die ewenaar in die oostelike deel van die Stille Oseaan warmer as gewoonlik is. ’n El Niño – een van die oorsake van somerdroogtes in die oostelike dele van die land – kom al om die twee tot sewe jaar voor. In Suid-Afrika veroorsaakdit dikwels warm en droër toes tande.Hoewel die El Niño van 1997 en 1998 as die grootste tot dusver beskou word, het die El Niño van 1972 een van die ergste droogtes in die land veroor saak. Die “tweelingsuster” van El Niño is La Niña, ’n kouer tydperk wat daarop volg.